Skoolfonds 2020: Graad R

Hiermee gee ons kennis van skoolfonds 2020.

Die skoolfonds vir die jaar beloop R22 600. U kry die geleentheid om hierdie bedrag as volg te betaal.

Eenmalige Betaling – voor/op 1 Februarie 2020 R22 600.00 minus korting  (– R1 100) = R21 500.00
10 Maandelikse betalings (vanaf 31 Januarie 2020 – 31 Oktober 2020) R2 260.00 voor/op die einde van elke maand
R2 260.00 x 10 = R22 600.00

Bankbesonderhede:

Bank: ABSA Durbanville
Rekeningnommer: 14-10-94-00-74.
Verwysing: Van en Naam van leerder moet voorsien word.

Die skool reël nie aftrekorders nie.

  1. Maandelikse betalings moet voor of op die einde van elke maand geskied. Die eenmalige verminderde betaling sal slegs van toepassing wees indien dit voor/op 1 Februarie 2020 gedoen word en geen korting sal hierna toegestaan word nie.
  2. Pre-primêre onderrig is nie verpligtend nie en u sal dus verantwoordelik gehou word vir die volle skoolfonds bedrag.
  3. LET WEL: Indien ‘n rekening 60 dae agterstallig is en oorhandig word aan die prokureurs, is die volle jaar se uitstaande skoolgelde onmiddellik opeisbaar en betaalbaar. Beide biologiese ouers sal gesamentlik en afsonderlik aanspreeklik gehou word vir betaling van die uitstaande balans van die jaar se skoolgelde, sowel as vir alle regskostes van die invorderingsproses, op ‘n prokureur en kliënt skaal, rente en invorderingskommissie.
  4. NEEM ASSEBLIEF KENNIS VAN BUITEMUURSE AKTIWITEITE: Alle privaat klasse (Playball en Musiek) se administrasie en finansies word deur die onderskeie persone/instansies self hanteer. GEEN verantwoordelikheid sal deur die Pre-primêre skool aanvaar word nie.

SKOOLFONDSBELEID 2020

  1. Skoolfonds is betaalbaar voor of op die laaste werskdag van ‘n maand. Geen uitsonderings sal gemaak word nie.
  2. Die voorwaardes is soos volg:
    1. Ten volle betaalbaar op 1 Februarie
    2. OF die Beheerliggaam gee die ouer die kans om betalings oor ‘n tydperk van 10 MAANDE te maak vanaf 31 Januarie 2020 tot en met 31 Oktober 2020.
  3. Indien die skoolgeld op of voor 1 FEBRUARIE ten volle betaal word, sal ‘n korting van R1 100.00 toegestaan word.
  4. Maandelikse betalings is op die die laaste werksdag van elke maand betaalbaar.
  5. Kragtens familiereg is ouers GESAMENTLIK en AFSONDERLIK aanspreeklik vir die betaling van skoolgeld, ongeag hulle huwelikstatus.
  6. In die geval van wanbetaling van skoolgeld, hetsy een maand of meer, behou die skool hom die reg om die VOLLE JAAR se skoolfonds van die ouer te eis. Indien hy/sy dit dan nie betaal nie, mag die skool die betaling afdwing deur die volle bedrag, met koste, aan hul prokureurs / invorderaars te oorhandig.
  7. In dié geval sal die skool beide ouers dagvaar, ongeag onderhoud en hofbevele wat tussen die party mag bestaan.
  8. Kragtens Artikel 39 van die S.A. Skolewet, is die partye wat deel het aan hierdie vorm, aanspreeklik vir die betaling van verpligte skoolgeld.
  9. Kragtens Artikel 40 en 41 van die S.A. Skolewet mag die skool die betaling van hierdie verpligte skoolgeld afdwing.
  10. Die skool het die reg om enige inligting oor die ouers ingevolge hulle verpligtinge vir die betaling van skoolgeld te hou en te verwerk, hetsy op rekenaars of andersins.
  11. Die skool mag ‘n kredietnavraag en/of kredietinligtingsnasporing oor die ouers doen deur middel van ‘n kredietinligtingsburo, persone wat as hulle agente optree en/of kredietverleners.
  12. Die skool mag besonderhede oordra oor hoe ouers hulle verpligtinge ten opsigte van die betaling van skoolgeld nagekom het en sodanige inligting deel met ander kredietverleners vir die doel van besluitneming rakende kredietrisikobestuur.
  13. Indien ouers versuim om hulle skoolgeldverpligtinge na te kom, mag die skool die wanbetaling van die ouers by ‘n kredietburo aanmeld. Enige inligting wat aan ‘n kredietburo deurgegee word, sal aan ander kredietverleners beskikbaar gestel word en gebruik word vir die doel van besluitneming rakende kredietrisikobestuur.

Begroting 2020

Eerstens baie dankie aan alle ouers wat die Begrotingsvergadering bygewoon het en vir julle ondersteuning om die Begroting vir 2020 goed te keur. Soos bespreek tydens die Begrotingsvergadering, bestaan die verhoging in skoolfooie vir 2020 uit twee gedeeltes naamlik ‘n normale verhoging in die operasionele kostes van die skool en ‘n voorsiening vir kapitaalbesteding. Daar is tydens die vergadering versoek om aan ouers meer inligting te gee rakende die Kapitaalbesteding wat deur die Beheerliggaam onderneem word.

Dit is dalk goed om net weer te bevestig dat daar drie fisiese persele is wat deur verskillende entiteite besit word en deur verskillende liggame bestuur word :

  1. Durbanville Voorbereidingskool Preprimêr
    Die perseel word besit deur Durbanville Voorbereidingskool Pre-Prim6re Trust en bestuur deur die Beheerliggaam.
  2. Durbanville Voorbereidingskool
    Die perseel word besit deur Wes-Kaap Onderwysdepartement en bestuur deur die Beheerliggaam
  3. Durbanville Voorbereidingskool Trust
    Die perseel waarop die Tienie Louw Sentrum, swembad en grasvelde gebou is word besit deur die Trust en bestuur deur ‘n Raad van Trustees. Die doel van die Trust is om die fasiliteite te verbeter tot voordeel van die Voorbereidingskool en Pre-Primer se leerders.

Daar is noue samewerking tussen die Beheerliggaam en Raad van Trustees om die behoeftes van die Leerders en Opvoeders te bepaal en befondsing vir Kapitaalprojekte te bekom en aan te
wend. Voorbeelde van Kapitaalprojekte by die verskillende kampusse die laaste paar jaar met geriewe wat 60 jaar oud is en Ieerdergetalle wat beduidend gegroei het:

Voorbereidingskool Preprimêr

  • Vervang heining om skool vir veiligheid,
  • verfraai en beveilig vooraansig van skool,
  • aanbou van pophuis / speelkamer,
  • aanbring van swaaie en klimrame,
  • bou van2 sandputte,
  • stoepreëling aangebring,
  • aanbring van kunsgras op verskeie areas,
  • opgradering van ontvangsarea,
  • vervang gladde en stukkende stoepteëls.

Voorbereidingskool

  • bou klaskamers en kantore,
  • vergrootpersoneelkamer,
  • opgradeer IT Netwerk,
  • opgradeer Graad 1 badkamer,
  • opgradeer Graad 2 badkamer,
  • nuwe waterstoortenke om boorgatwater te kan gebruik,
  • houtdekke rondom bome vir ontspanningsareas,
  • lugversorgers vir alle klasse en kantore,
  • luidsprekers in die skoolsaal,
  • lugversorger in die skoolsaal,
  • tarantula klimrame en glyplanke,
  • koppel boorgat met skool vir kleedkamers se spoelbakke,
  • vervang natuurlike gras met waterbesparende kunsgras,
  • aanbring van elektroniese witborde vir klaskamers,
  • aanbring van ‘n nuwe veiligheidsheining om hele skool en verf bestaande hekke,
  • vervang dakbedekking Graad 2 vleuel,
  • versterking van dakkappe Graad 1 &2 vleuel en admin blok,

Voorbereidingskool Trust (lnsluitende Nasorg)

  • bou 2 x nuwe swembaddens en pawiljoene,
  • gradeer elektrisiteitsvoorsiening op,
  • skaf hittepompe aan vir swembaddens, jaarlikse instandhouding van swembaddens,
  • Tienie Louw Sentrum instandhouding,
  • installeer nuwe krieketnette,
  • trapreëlings vir veiligheid,
  • gradeer veiligheidsheining op
  • instandhouding sportvelde en terrein,
  • stadsbeplannings- en geraasimpakstudie om aktiwiteitsentrum te kan verhuur,
  • installeer kaste in kombuis en koop toerusting aan

Toekomstige kapitaal projekte :

1. Veeldoelige sportvelde

Die oorsprong van die projek het ontstaan by die Sport Afdeling se behoefte aan ‘n Astrobaan vir die hokkiespelers aangesien dit die oppervlak is waarop die leerders in die toekoms gaan speel. Die projek word deur die Trust onderneem met insette vanaf die Skool. Na deeglike konsultasie het die Trust besluit om ‘n Meesterplan te laat opstel.

Die sportveld moet optimaal benut word aangesien daar nie verdere grond beskikbaar is nie. Daar word nou ondersoek gedoen wat die koste sal wees om die suidelike hoek wat onbenut is
gelyk te maak en die veeldoelige sportveld daar te bou sodat die volle grasoppervlak benut kan word.

2. Vervanging van dakbedekking en versterking van dakkappe

Durbanville Voorbereidingskool is reeds 53 jaar oud. Die laaste paar jaar het die skool gereeld lekkasies van die dakke ervaar weens die leiteeldakbedekking wat verweer het en die einde van
hul leeftyd bereik het. Aangesien die eiendom aan die WKOD behoort is dit hul verantwoordelikheid om die dakbedekking te herstel / vervang. Die probleem en behoefte aan vervanging is deur die korrekte prosedure by die WKOD aangemeld. Na deeglike konsultasie met ‘n strukturele ingenieur het die Beheerliggaam egter besluit om die dakkappe en dakbedekking
van die Graad 2 vleuel te vervang om die veiligheid van ons leerders te verseker.

Die werke is teen ‘n koste van R 877,000 deur die Skool laat doen – daar is reeds met die WKOD vergader in ‘n poging om die R 877,000 terug te betaal aan die Skool. Tydens die opvolgondersoek in die Derde Kwartaal het dit ook aan die lig gekom dat die Graad 1 klasse se dakkappe versterking benodig. Die herstelwerk is teen ‘n koste van R 201,000 gedoen. Die Beheerliggaam sal tot op die hoogste vlakke binne die WKOD die saak opneem om die totale uitgawe van R 1.078 miljoen te verhaal.

Die realiteit is dat die R1,078 miljoen uit die skool se reserwefondse moes kom. lndien daar verdere werk gedoen moet word, moet die skool hiervoor begroot. Dit is dus een van die grootste
redes waarom ‘n kapitaalprojek heffing by die skoolfonds geplaas word.

Die Meesterbeplanning vir Kapitaalprojekte vir die volgende 10 jaar (en waarvoor befondsing verseker moet word) is tydens die Begrotingsvergadering aan u voorgehou en die prioriteite is:

Durbanville Voorbereidingskool :

  • Sentralisering van die gefragmenteerde adminkantore na die ingang van die skool asook voorsiening vir nuwe kantore.
  • Uitbreiding van die skoolhoof se kantoor vir ‘n raadsaal vir vergaderings wanneer die personeelkamer in gebruik is.
  • Inrigting van ‘n werkskamer vir die personeel (vir gebruik in die middag wanneer nasorg die klaskamers gebruik) asook ‘n afrol en telefoon lokaal.
  • ‘n Nuwe mediasentrum / biblioteek langs die skoolsaal. . Afdakke oor twee netbalbane (binnehowe) wat ook gebruik kan word vir speelplek tydens pouses en ook as dit reën.
  • Nuwe Graad 3 klaskamers om die tydelike klaskamers te vervang.
  • ‘n Netbal klubhuis met ablusie geriewe om die tekort aan badkamers vir die leerders aan te vul.
  • Herorganisering van die parkeerarea om meer motors te akkomodeer en aanbring van store.

Durbanville Voorbereidinqskool Trust:

  • Grondwerke en dreinering ten einde die gronde maksimaal te benut
  • Bou van twee veeldoelige sportvelde
  • Pawiljoene
  • ‘n Dak oor die swembad vir gebruik deur die jaar asook deur verhuring daarvan inkomste te genereer.
  • Kantore en stoorplek vir die sportafdeling
  • Uitbreiding van Graad R (tans 5 klasse) na 10 klaskamers

Uit bogenoemde sal u sien dat daar heelwat Kapitaalprojekte aangepak moet word, sekeres uit ‘n onderhouds / veiligheidsoogpunt en sekeres om die infrastruktuur van die Skool en Trust tot
voordeel van die Leerders en Opvoeders voortdurend te verbeter. Hierdie projekte benodig befondsing en kundigheid om te beplan en te bestuur.

Met voorafgenoemde in ag geneem, het die Beheerliggaam voorgestel om die skoolfonds te verhoog van R16,150.00 na R18,580.00 vir 2020. Die verhoging bestaan uit twee gedeeltes
naamlik ‘n verhoging van 8.85% (R1,430.00) in die operasionele kostes van die skool en R1,000.00 vir die kapitaalprojekte.

Die gedeelte vir die kapitaalprojekte sal geallokeer word na ‘n kapitaalprojekreserwe en uitsluitlik vir daardie doel aangewend word. Geen gedeelte daarvan sal vir enige operasionele kostes
aangewend word nie.

Die verhoging in die skoolfonds vanaf R16,150.00 na R18,580.00 is derhalwe op 3 Oktober 2019 deur ‘n meerderheid ouers teenwoordig tydens die begrotingsvergadering aanvaar en
goedgekeur.

Ons wil graag vra indien daar ouers is met kundigheid in enige van hierdie velde of toegang het tot verskaffers van hierdie produkte / dienste en bereid is om die Skool te help om die projekte meer
koste doeltreffend aan te pak en te bestuur dat u asseblief met die Skoolhoof dit sal bespreek. Die Beheerliggaamlede en Trustees moet hierdie projekte in hulle privaattyd beplan en bestuur en
daarom kan dit langer neem as iemand wat dit voltyds kan doen, maar die Lede gee hulle tyd kosteloos tot voordeel van die Skool en die huidige en toekomstige Leerders en Opvoeders.

Ons sien uit daarna om met huidige en toekomstige ouers saam te werk om hierdie projekte tot uitvoering te bring.

Skoolfonds 2020: Gr1-3

Die begroting van die skool vir 2020 is op 03 Oktober 2019 by ‘n vergadering aan die ouers voorgelê en deur ‘n meerderheid van die ouers daar verteenwoordig, aanvaar. Die skoolfonds vir 2020 styg vanaf R16,150 na R18,580 per leerder, per jaar. Die verhoging van R2,430 per jaar bestaan uit ‘n verhoging van R1 ,430 per jaar in die operasionele begroting en R1,000 per jaar in die kapitaalbegroting (hierdie verhoging van R1,000 per jaar, word in die aangehegde addendum verduidelik).

Ons skool is ‘n Artikel 21 skool, dit wil sê die Suid-Afrikaanse Skolewet bepaal dat skoolgeld betaalbaar is. Die Beheerliggaam mag dus die betaling daarvan deur ‘n regsproses afdwing (verwys Artikel 40 en 41 van die Skolewet). Openbare skoolfooie is ‘n statutêre verpligting in terme van die Suid-Afrikaanse Skolewet No. 84 van 1996 (soos gewysig), jaarliks vooruitbetaalbaar in die begin van elke skooljaar en die betaling daarvan is VERPLIGTEND, tensy die ouers kwytskelding of gedeeltelike kwytskelding daarvan toegestaan word.

BEIDE biologiese ouers is gesamentlik en afsonderlik aanspreeklik vir die betaling van die skoolfooie, ongeag die ouers se huweliksstatus of egskeidingsooreenkoms. Enige egskeidingsbevel is inter partes bindend op die partye daartoe en het geen effek op die ouers se verpligting teenoor die skool nie. In ‘n poging om die finansiële las van die ouers te probeer verlig, is die skool bereid om gelyke afbetalings op ‘n maandelikse basis toe te laat, wat strek oor 10 maande (31 Januarie 2020 tot 31 Oktober 2020). Hierdie toegewing aan ouers verander op geen wyse die feit dat die betaling van die skoolfonds ‘n statutêre plig is en nie ‘n vrywillige ooreenkoms nie, veral nie ‘n kredietooreenkoms soos beskryf in die bepalings van die Nasionale Kredietwet nie.

DIE TARIEWE PER LEERLING VIR 2020, IS AS VOLG:

1. Eenmalige betaling voor / op 1 Februarie 2020 R17,630.00 [R18,580.00 – R950,00 korting]
2. Gelyke maandelikse betalings oor 10 maande (31 Januarie 2020 – 31 Oktober 2020) R1,858.00 per maand (R18,580.00 per jaar)

LET WEL: lndien ‘n rekening 60 dae agterstallig is en oorhandig word aan die prokureurs, is die volle jaar se uitstaande skoolgelde onmiddellik opeisbaar en betaalbaar. Beide biologiese ouers sal gesamentlik en afsonderlik aanspreeklik gehou word vir betaling van die uitstaande balans van die jaar se skoolgelde, sowel as vir alle regskostes van die invorderingsproses, op ‘n prokureur en kliënt skaal, rente en invorderingskommissie.

METODES VAN BETALING (Let asb daarop dat die nasorg ‘n ander bankrekening gebruik)

1. INTERNET

Bank ABSA
Takkode 632005 (Durbanville)
Rekeningnommer 1410940074 (tjekrekening)
Verwysing Familiekode (soos aangedui op staat – baie belangrik) en LEERLING SE VAN, byvoorbeeld:
0001 Adams

2. KONTANT
Die wyse van betaling word slegs oorweeg, indien ‘n reëling met die skool getref word en word ontmoedig as gevolg van veiligheidsredes en/of addisionele bankkostes.

AANSOEK OM FINANSIËLE HULP / VRYSTELLING

Ouers wat nie die skoolfonds kan bekostig nie, mag by die Beheerliggaam aansoek doen vir algehele, gedeeltelike of voorwaardelike finansiële hulp / vrystelling van skoolgeld (prosedure soos in Art. 39 van die Skolewet). Om te kwalifiseer vir enige finansiële hulp / vrystelling, word beide die biologiese ouers se gesamentlik jaarlikse bruto inkomste (punt 6.2 van die regulasie) as maatstaf gebruik. Finansiële hulp / vrystelling word gefinansier as ‘n uitgawe-item op die skool se jaarlikse begroting. Aansoeke om vrystelling moet dus met groot omsigtigheid deur ouers hanteer word.

  1. Aansoeke vir finansiële hulp vir 2020 moet ons voor / op Vrydag, 14 Februarie 2020 bereik.
  2. Aansoekvorms is verkrygbaar by me. Wilma Kotzé, by die Finansiële kantoor vanaf Januarie 2020.
  3. SLEGS aansoeke wat VOLLEDIG deur albei ouers ingevul is, sal oorweeg word.
  4. Suksesvolle aansoeke is SLEGS geldig vir die betrokke jaar.
  5. lndien daar nie by die betalingsvoorwaardes gehou word nie, behou die Beheerliggaam die reg voor om die vrystelling ten volle terug te trek en aan die prokureurs te oorhandig.
  6. lndien die ouer se finansiële posisie verander/verbeter, is dit sy/haar plig om die skool onmiddellik hiervan in kennis te stel.